Die langverwagte Wet op Eiendomspraktisyns het uiteindelik vanjaar in werking getree en bring aansienlike veranderinge in die eiendomsbedryf mee. Die Wet neem ‘n meer verbruiker-gefokusde benadering en is gegrond op die behoefte aan transformasie in die eiendomsektor.
Eiendomspraktisyns
Die Wet het sy toepassingsgebied verbreed deur alle rolspelers in die eiendomsbedryf kragtens dieselfde Wet te konsolideer. Die konsep van ‘n eiendomspraktisyn is dus nie net tot eiendomsagente beperk nie, maar sluit onder andere eiendomsontwikkelaars, eiendomsbestuurders en oorbruggingsfinansiers in.
Die beperking op die verhouding tussen eiendomspraktisyns en ander eiendomsdiensverskaffers
Soos reeds genoem, neem die Wet ‘n meer verbruiker-gefokusde benadering en is dit hoofsaaklik daarop gemik om die verbruiker te beskerm. Dit blyk duidelik uit artikel 58 van die Wet, wat onder andere bepaal dat ‘n eiendomspraktisyn nie ‘n ooreenkoms mag aangaan wat ‘n verbruiker verplig of aanmoedig om ‘n bepaalde eiendomsdiensverskaffer, insluitend ‘n prokureur, te gebruik om ‘n diens te lewer ten opsigte van ‘n transaksie waarvan daardie eiendomspraktisyn die effektiewe oorsaak was nie. Die Wet bepaal dan verder dat enige persoon wat dienste lewer wat in stryd is met hierdie artikel, nie op vergoeding geregtig is nie.
Alle eiendomspraktisyns moet in besit wees van ‘n getrouheidsfondssertifikaat
Benewens bogenoemde maak die Wet dit ook verpligtend vir alle eiendomspraktisyns om houers te wees van ‘n getrouheidsfondssertifikaat wat deur die nuutgestigte Reguleringsowerheid vir Eiendomspraktisyns uitgereik is. Verder moet die praktisyn ook in besit wees van ‘n belastingklaringsertifikaat, asook ‘n SEB-sertifikaat. Ingevolge artikel 56 van die Wet is ‘n praktisyn nie geregtig op vergoeding of betaling indien die praktisyn ten tyde van die uitvoering van hul pligte nie in besit was van ‘n getrouheidsfondssertifikaat nie. Die Wet maak dit verpligtend vir ‘n aktebesorger om eers hierdie sertifikaat van die eiendomspraktisyn aan te vra voordat enige betaling aan die praktisyn gedoen word. Hierdie bepaling sal verseker dat verkopers en kopers met behoorlik-gekwalifiseerde praktisyns handel dryf.
Verpligte openbaarmaking van gebreke
Laastens, is een van die belangrikste veranderinge wat die Wet na vore bring, die verpligting van verkopers om nou enige gebreke in die eiendom, waarvan hulle bewus is, deur middel van ‘n skriftelike openbaarmaking bekend te maak. Die skriftelike openbaarmaking moet deur alle partye onderteken word en moet aan die koopkontrak (of ‘aanbod om te koop’) geheg word. Ingevolge artikel 67 van die Wet kan die eiendomspraktisyn nie ‘n mandaat aanvaar as hierdie skriftelike openbaarmaking nie getoon word nie.
Ten opsigte van die bogenoemde is dit duidelik dat die nuwe Wet primêr ten doel het om die belange van die verbruiker te beskerm. Verbruikers moet dus gebruik maak van die beskerming wat ingevolge die Wet aan hulle gebied word en voordat hulle enige koopkontrak onderteken, seker maak dat daar ‘n skriftelike openbaarmaking deur die verkoper is wat al die gebreke in die eiendom uiteensit. Hulle moet ook verseker dat die eiendomspraktisyn in besit is van ‘n getrouheidsfondssertifikaat wat deur die Reguleringsowerheid vir Eiendomspraktisyns uitgereik is voordat die praktisyn opdrag gegee word om sy of haar dienste te lewer.
Verwysingslys:
- Die Wet op Eiendomspraktisyns 22 van 2019
- The Property Practitioners Act and its impact on the property sector (Lethabo Mashishi)
Hierdie artikel is ‘n algemene inligtingsblad en moet nie as regs- of ander professionele advies gebruik of staatgemaak word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of vir enige verlies of skade wat voortspruit uit vertroue op enige inligting hierin nie. Kontak altyd jou adviseur vir spesifieke en gedetailleerde advies. Foute en weglatings uitgesluit (E&OE).