Die koper onderteken ’n koopooreenkoms met die verkoper. Die eiendom word oorgedra na die koper se naam. ’n Maand later is daar swaar reënbuie en die dak lek. Is die verkoper of die koper, as die nuwe eienaar, aanspreeklik om die dak te herstel?
Om te verstaan watter party aanspreeklik is, moet ’n mens die verskil tussen latente en patente gebreke verstaan. ’n Latente gebrek is nie sigbaar nie of kan nie ontdek word wanneer die eiendom geïnspekteer word nie. Hierdie tipe gebrek benadeel die gebruik en genot van die eiendom. Tipiese voorbeelde van latente gebreke is lekkende dakke, vog en/of strukturele gebreke in die fondament, om maar ’n paar te noem.
Aan die ander kant is ’n patente gebrek sigbaar wanneer die eiendom geïnspekteer word. Die partye het dus die opsie om te onderhandel, of dit nou die verkoper is wat die patente gebrek herstel of die koopsom verminder word sodat die koper dit kan herstel.
Geskille wat dus tussen kopers en verkopers ontstaan, is gewoonlik rondom latente gebreke. Die gewone regspunt is soos volg:
As die verkoper die koper ’n uitdruklike skriftelike waarborg gee dat die eiendom vry van enige gebreke is, en nadat die verkoop afgehandel is, bevestig die koper dat daar wel ’n gebrek is, kan die verkoper aanspreeklik gehou word vir die herstelwerk.
Byvoorbeeld, as die verkoper in die koopooreenkoms verklaar het dat die dak nie lek nie en nadat die verkoop plaasgevind het, ervaar die koper lekkasies in die dak, word die verkoper aanspreeklik gehou omdat daar ’n kontrakbreuk was. As die verkoper die koper oor die toestand van die eiendom mislei, kan die verkoper aanspreeklik gehou word. Byvoorbeeld, as die verkoper bewus is dat die dak lek en dit nie aan die koper openbaar nie, kan die verkoper aanspreeklik gehou word, en die verkoop kan gestop word of die koper kan voortgaan maar ’n vermindering in die prys vir die skade eis.
’n Mens mag vra, maar wat as die verkoper nie geweet het van die latente gebrek nie? Die antwoord is ja, die verkoper kan steeds aanspreeklik gehou word as die latente gebrek bestaan het toe die eiendom verkoop was.
Maar waarom is daar ’n voetstoots klousule in die verkoopooreenkoms, wat veronderstel is om die verkoper te beskerm deur die koper in te lig dat hy/sy/hulle die eiendom soos dit is (voetstoots) aankoop? Die voetstoots klousule beskerm nie die verkoper nie en sluit nie die verkoper se aanspreeklikheid uit as die misleiding bewys is nie; dus as die verkoper bewus was van die latente gebrek en dit nie aan die koper openbaar het nie, kan die verkoper aanspreeklik gehou word.
Die Verbruikersbeskermingswet, wat op 1 April 2011 in werking getree het, bepaal dat die koper ingelig moet word van alle besonderhede met betrekking tot die eiendom wat hy/sy/hulle aankoop. Wanneer die verkoper uitdruklik verklaar in watter toestand die eiendom is en die koper uitdruklik die huidige toestand van die eiendom voor die aankoop aanvaar, val die stilswye waarborg van die eiendom se toestand weg. Die effek van die Verbruikersbeskermingswet is dat die voetstoots klousule min doen om die verkoper te beskerm wanneer dit kom by gebreke; dus word die verkoper aangemoedig om alle gebreke van die eiendom aan die koper te verklaar voordat ’n verkoopooreenkoms afgehandel word.
Hoewel alle redelike pogings aangewend word om die akkuraatheid van die inhoud van hierdie publikasie te verseker, sal nie die skrywers van die artikels of die uitgewer enige verantwoordelikheid dra vir die gevolge van enige aksies gebaseer op inligting of aanbevelings hierin vervat nie. Ons materiaal is vir inligtingsdoeleindes.