Boedelbeplanning begin dikwels met ’n eenvoudige testament. Dit kan egter vinnig meer ingewikkeld raak wanneer ’n vakansiehuis deur verskeie familielede gedeel word, ’n familieonderneming na die volgende geslag oorgedra moet word of eiendom vir jare in die familie moet bly.
Wanneer iemand sterf sonder duidelike instruksies oor wat met daardie bates gebeur, skep dit nie net onsekerheid vir die familie nie. Dit kan ook tot geskille, onnodige vertragings en finansiële verlies lei.
’n Geldige testament moet daarom meer doen as om net te bepaal wie jou besittings erf. Dit moet ook verduidelik hoe bates oorgedra moet word, hoe praktiese besluite ná jou dood geneem moet word en hoe jou gesin se werklike omstandighede hanteer moet word. Jou huweliksbedeling, minderjarige kinders, eiendom, besigheidsbelange en die beskikbare kontant in jou boedel moet alles in ag geneem word.
Elke gesin se behoeftes verskil. Daarom is dit voordelig om jou testament met die hulp van ’n ervare regspan op te stel en dit gereeld te laat hersien.
Hier is sewe algemene slaggate wat jy moet vermy vir suksesvolle boedelbereddering.
1. Een eiendom, verskeie erfgename, geen plan
Om ’n eiendom aan meer as een erfgenaam na te laat, kan gedeelde eienaarskap gekompliseerd maak. Sommige familielede wil dalk die eiendom hou, terwyl ander hul aandeel wil verkoop en eerder die waarde daarvan in kontant wil ontvang.
Meningsverskille kan ook ontstaan oor wie vir munisipale heffings, versekering, instandhouding en herstelwerk moet betaal. Indien niemand die ander erfgename uitkoop nie, kan die eiendom uiteindelik verkoop moet word.
Jou testament behoort dus nie net te bepaal wie die eiendom erf nie. Dit moet ook voorsiening maak vir die waardasie of verkoop daarvan, die verdeling van die winste wanneer die eiendom verkoop word, moontlike uitkoopreëlings en die verblyfreg van iemand wat steeds van die eiendom afhanklik mag wees.
2. ’n Erfporsie wat meer kos as wat dit werd is
’n Boedel kan waardevolle eiendom besit, maar steeds nie genoeg kontant hê om die boedel suksesvol af te handel en die eiendom aan die erfgename oor te dra nie.
Skuld, belasting, munisipale rekeninge, administrasiekoste, eiendomsuitgawes en die eksekuteur se vergoeding moet betaal word voordat die oorblywende bates tussen die erfgename verdeel kan word.
Indien die boedel nie genoeg voorsiening maak om hierdie uitgawes te dek nie, moet ’n eiendom wat vir jou gesin bedoel was dalk verkoop word. ’n Berekening van die boedel se verwagte kostes kan moontlike tekorte vroegtydig uitwyds en help bepaal of spaargeld, beleggings of lewensversekering nodig is.
3. Jou huweliksbedeling word nie in ag geneem nie
’n Testament kan nie eiendom of ander bates weggee wat nie aan die oorledene behoort het nie.
Wanneer ’n paartjie binne gemeenskap van goedere getroud is, vorm hul bates en skuld gewoonlik deel van ’n gesamentlike boedel. Die oorledene kan dus nie vooraf in ’n testament oor die langslewende se deel van die boedel besluit nie.
Waar die aanwasbedeling van toepassing is, moet die aanwas eers bereken word wanneer die huwelik deur egskeiding of die dood beëindig word. Dit bepaal die werklike beskikbare waardes van die bates wat deur die testament verdeel kan word.
Jou testament, huweliksvoorwaardekontrak, titelaktes en ander eiendomsrekords moet daarom saam oorweeg word. Dit voorkom dat jou testament instruksies bevat wat nie in die praktyk of wettiglik uitgevoer kan word nie.
4. Geen plan vir ’n minderjarige se erfenis nie
’n Kind jonger as 18 jaar kan nie geërfde geld of eiendom self bestuur nie. Indien jou testament nie behoorlik daarvoor voorsiening maak nie, kan die kind se geld in die Voogdyfonds beland.
Die kind se voog of versorger moet dan aansoek doen om die geld beskikbaar te stel vir uitgawes soos onderhoud, skoolgeld, mediese kostes, klere en verblyf.
’n Testamentêre trust kan ’n meer geskikte oplossing wees. Trustees bestuur dan die erfenis volgens duidelike riglyne totdat die kind ’n gepaste ouderdom bereik om self besluite oor hul erfporsie te neem. Jou testament kan ook bepaal hoe die geld vir opvoeding, versorging en ander behoeftes gebruik moet word.
5. Jou handtekening geld meer as jou wense
Suid-Afrikaanse wetgewing stel streng vereistes vir die ondertekening van ’n testament. Die persoon wat die testament besit, moet seker maak dat dit korrek onderteken word.
Twee bevoegde getuies moet terselfdertyd teenwoordig wees. Die getuies moet ook in die teenwoordigheid van die persoon én van mekaar teken.
’n Persoon wat uit die testament erf, behoort nie as ’n getuie op te tree nie. Dieselfde geld vir iemand wat as eksekuteur, trustee of voog aangewys word, asook hul gade. Die verkeerde getuies kan tot diskwalifikasie, geskille en selfs ’n hofaansoek lei.
6. Jou testament word nie ná ’n egskeiding hersien nie
Indien iemand binne drie maande ná ’n egskeiding sterf met ’n testament wat voor die egskeiding opgestel is, word die testament gewoonlik toegepas asof die paartjie steeds getroud was by die tyd wat die afsterwe plaasgevind het. Dit geld tensy die testament duidelik of die persoon wel moes erf of nie.
Moenie op hierdie tydelike reël staatmaak nie. Laat jou testament so gou moontlik ná jou egskeiding hersien word.
7. ’n Eksekuteur moet versigtig gekies word
Boedelbereddering behels gekompliseerde adiministrasie wat deur die eksekuteur hanteer moet word. Dit sluit onder meer prosesse by die Meesterskantoor, SARS, banke, skuldeisers, munisipaliteite en, waar eiendom betrokke is, die Aktekantoor in.
’n Familielid verstaan dalk die gesin se behoeftes die beste, maar hul het nie noodwendig die tyd, ervaring of gespesialiseerde kennis om die proses doeltreffend te bestuur nie. In sommige gevalle kan die Meester ook vereis dat ’n ervare professionele persoon die boedel moet behartig.
Daarom is dit voordelig om ’n prokureur of ervare adviseur as eksekuteur aan te stel om die boedel saam met ’n betroubare familielid af te handel.
Maak seker jou wense is uitvoerbaar
’n Testament moet jou wense in duidelike en uitvoerbare instruksies omskep. Dit moet nie net bepaal wie jou besittings erf nie, maar ook hoe eiendom, geld en ander verantwoordelikhede ná jou dood hanteer moet word.
Jou gesin se omstandighede verander deurlopend. ’n Testament wat jare terug opgestel is, maar nooit hersien is nadat jou gesin uitgebrei het, eiendom aangekoop is, of ’n egskeiding plaasgevind het nie, kan groot komplikasies veroorsaak vir dié wat daarop staatmaak.
Laat ons span jou help om jou testament op te stel en deeglik te hersien wanneer jou omstandighede of behoeftes verander. Op só manier kan jy verseker dat vertragings, onnodige onsekerheid en finansiële verlies voorkom word wanneer jy sou sterf, en jou testament jou wense presies uitvoer soos wat jy beplan het.
Hoewel daar redelike pogings aangewend word om die akkuraatheid van die inhoud van hierdie publikasie te verseker, sal nie die skrywers van die artikels nie, sowel as die uitgewer, verantwoordelik wees vir enige gevolge wat voortspruit uit aksies wat gebaseer is op die inligting of aanbevelings wat hierin vervat is nie. Ons materiaal is net vir inligtingsdoeleindes.